Sunday, 23 June 2013

'n Paar blommetjies...



Sommer net....

As ek n goggamajolletjie was, het ek saans saam met die sterretjies gaan dans of vrolik en vry op die maan se hoepelrug gaan ry...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ek in jou hemp se sak geskuil, kon jou stem my troos as ek wou huil...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ek in die holte van jou hart gepas, het ek altyd net by jou gebly; ek by jou en jy by my...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ons die aarde platgeloop, 'n huisie in die bos gekoop, skemertyd die pad gevat en mekaar in die bergpoel natgespat...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ons blinkbruin klippies uit 'n waterstroom gehaal, paadjies vir die hart gebou om nooit weer te verdwaal...
As ek 'n goggamajolletjie was, kon ek stilletjies in jou ore fluister, kon ek elke dag met die son se groet 'n warm plekkie teen jou bors kom soek...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ek 'n veer in jou hoed gedruk, blare en blomme vir ons huis gepluk, die wind se suissang om jou soos 'n jas gevou; sodat jy my vir altyd naby jou sal hou...
As ek 'n goggamajolletjie was, het ek saans 'n duisend kerse aangesteek, 'n tempel in die nag gebou en stil gebid vir liefde wat vir ewiglank sal hou..
As ek 'n goggamajolletjie was, kon ons in Kammalielieland woon, was die lewe eenvoudig en oop en die wereld van sy seer gestroop...

Maar nou is ek net ek en jy net jy
en die ver verlang sal net 'n jongmeisiedroompie bly...