Tuesday, 21 August 2012

My nefie Matthys, het my aan die skilder gekry met allerlei vrolike blomme! Iets wat ek nie gedink het ek het enigsins 'n aanvoeling voor nie. Ek moes 'n volle twintig blomskilderye vir hom maak en nou kan ek nie ophou nie! Skielik agtergekom ek kan dit doen!
Lekkertjies eet in die woud. Spesiaal geskilder vir my ousus Ansie en haar man Willie. Hulle is twee van die vele dierbare mense in my lewe wat my altyd aanmoedig en bemoedig om my talente te ontwikkel en gebruik: no matter what!!!!
Vrolike blomme in helder waterverfkleure!
Wit lelies om die dag 'n bietjie mooier te maak! Waterverf /watercolour.
Kuiertjie in Frankryk! (Al was ek nog nooit daar nie!)


Vrolike varkore!




Ek het so lanklaas op my afdraaipaadjies rondgekuier! Seker omdat die jaar tot dusver vol groot lekkertes en nuwe dinge was! Eerstens my eerste solo-uitstalling in Junie, kort daarna my vyftigste verjaarsdag en begin Junie was dit presies 20 jaar gelede wat ek 'n ernstige ongeluk oorleef het. 

Om vyftig te wees is heerlik bevrydend. Amper of mens sommer weet jy het 'n mylpaal gehaal, jy het sowaar oorleef so tussen al die oppe en affe van die lewenspad! Skielik voel jy gemaklik met jouself en 'n nuwe selfvertroue straal so tussen die grys hare en geleefde lyfie uit. Dis sommer net lekker!

Die skildery hier bo is een van my onlangse werkies! Die bruid wat gereedmaak vir die koms van die hemelse Bruidegom.