Saturday, 12 November 2011

Papajas

In heelwat van die inwoners se tuine staan daar sommer twee of drie papajabome en in hierdie tyd is die soet lekkerte juis geelryp en reg vir pluk en geniet.
Een ou vroutjie kom dikwels inloer met 'n paar papajas wat sy verkoop. En as mens die ou geldjies versigtig aftel in die bruin handjie, kry jy dikwels een of twee verniet sommer net uit die hart.
Papajas laat my altyd na my ma verlang, sy was so verskriklik lief vir vrugte en as ek aan my ouerhuis dink, dink ek ook aan die oorvloed van vars vrugte wat altyd in die kombuis was. En iewers om 'n hoekie die groot boks met appels wat op die mark gekoop is, nog toegedraai in pers papiertjies tussen die wit styrofoam-lae.
Die soet papajas word 'n proe van die pyn van ver verlang en onthou en 'n troos dat iemand omgee in 'n land wat ver is van alles en almal wat jare lank deel van jou is en bekend is...

Groentesmous

As groot goedkoop winkels te ver is, die behoefte aan vars vleis, groente en vrugte te groot is; dan maak iemand 'n plan. Die groentesmous wat twee keer per week 'n draai deur die strate kom maak, is 'n opwindende ontdekking! Dit voel soos die koopervarings waarvan ek as kind in Mikro se storieboeke gelees het!
Die wit bakkie ry toet-toet vir reaksie deur die strate, totdat 'n koper hom stop, sommer letterlik by jou voordeur! Vars vrugte, kleurvol en sappig, kraagvars groente en vleissnitte wat nie sommer in die plaaslike winkeljtie beskikbaar is nie. En het jy 'n spesiale bestelling, word dit met die volgende besoek vir jou afgelewer.
Ek verwonder my aan die oorspronklike slim en tog "ou" planne wat in die statjie leef asof iets nuuts in die een-en-twintigste eeu met sy kitslewe en -keuses. Dis nog 'n manier van kommunikasie met meer van die inwoners en die geselsies word een van die hoogtepunte van die week...en natuurlik inspirasie vir 'n paar geregte anders as mieliepap en sous...

Die dood

Die dood word letterlik ons brood. In die drie maande wat ek op Koedoesrant woon, is daar maklik twee, drie begrafnisse 'n week - die geheimsinnige AIDS wat op allerlei maniere in mense se liggame kom wegkruip en dan sy vernietiging finaal uitvoer.
Volgens tradisie moet iemand behoorlik begrawe word, 'n groot samekoms van roubeklaers en baie kos. Maar met die finansies wat druk en baie begrafnisse noodsaak dat die tradisionele bees nie meer geslag kan word nie, skape is goedkoper. So word menige van ons skapies vasgebind aan die bene op 'n kruiwa weggery na sy slagting... Stil en grootogig, asof hy weet wat wag.
Ek dink nie ons het werklik 'n idee hoe groot hierdie vreeslike siekte se impak op mense se lewens is nie. Die ouer mense in die stat waarsku die jonges teen 'n rondslaaplewe, maar hulle weier om te luister omdat dieselfde ouer mense ook in hul jongdae so geleef het; waarvoor dan verander?
Hoe tragies dat ons eie koppigheid soms ook ons eie hartseer en dood kan veroorsaak!