Saturday, 22 October 2011

Motorfietsry..ai toggie!!

Nou kyk, ek was nog nooit baie dapper as dit kom by motorfietsry nie, te bang ek val en kry seer! Maar as dit nou die enigste manier is hoe mens 'n biejtie uit die huis kan kom, dan moet die veldmotorfiets maar die ding doen! Versigtig gebalanseer, doodstil sit en onthou van saam inval by 'n draai...
Op die motorfiets besoek ons die kaptein, die "office" waar al die belangrike statregulasies, reels en dienste georganiseer word, Ouma Mina, die winkel vir nodige inkopies en sommer net om bietjie weg te kom.
Die lekkerste is die ritte uit die stat na die oop veld toe. Die stilte vou om jou soos 'n warm kombers in die winter en as jy gelukkig is sien jy selfs 'n bokkie of vlakvark. Ek kan nou nog die gras en doringbome sien en die rooibruin grond onder my voete voel! En as daar nog so 'n effense koeligheid dans tussen die bome deur,  is die hitte sommer ook meer draaglik. Ek is mal oor die stilte....
Een middag ry ons gou 'n paar blokke verder om na 'n pasgebore donkie te gaan kyk. Dit was een van die mooiste ervarings van my lewe! Die slap lyfie met die yslike ore en wankelrige beentjies! En so, danksy die motorfiets, word my wereldjie darem 'n bietjie groter as die werklikheid my hart te veel vasdruk...

Friday, 21 October 2011

Dis Vrydag!

Dis vandag Vrydag - gedaan na die week se harde werk en baie ryery vir my studenteseuns kollege toe. So anders as sewe jaar terug se Vrydag in Koedoesrant!
Ek kan die oggend se prentjie nog goed onthou, dis 'n gedagtefoto'tjie wat nog helder in my geheue voorkom. Die Vrydag was ek besig om in die kombuis te vroetel met my oggendtakies. In 'n poging om my gemoed bietjie op te vrolik het ek spesiaal vroegoggend sommer sulke lekker helder rooi lipstiffie aangesit en iets moois aangetrek.
Die agterdeur was oop. Sowat tien tree verder was die een besige verbystraat. Een van die buurvroue was besig om haar dag se watervoorraad te kom haal in die groot plastiekhouers op haar kruiwa. Die kraan net om die hoek oorkant die straat.
"Dumela Santie!" groet sy met 'n stoute glimlag. "Ek sien dis VRY-dag vandag!"

Monday, 17 October 2011

Mededeelsaamheid

John en Susan se netjiese huis is teen die rand van die stat, die oop veld sommer net anderkant die heining.
Weereens word elke vertrek in detail vir ons gewys toe ons een middag daar kom kuier. Susan gee vir my 'n bord pap met 'n tuisgemaakte tamatiesous - dit brand op die tong! Ek was nie regtig honger nie, maar as ek die gasvryheid van die hand wys, sal dit 'n klap in die gesig van my gasvrou wees. Dus eet ek maar elke krummel van die groot bord pap op! Daarna kry ek 'n yslike hand vol sjokolade in blink gekleurde papiertjies, toe ek wil oorhou vir die seuns by die huis, word ek aangese om alles op te eet, hulle wil vir die seuns lekkers saamstuur. Ek het nog nooit eintlik 'n probleem gehad met sjokolade nie.....
Pienkie is Susan-hulle se dogtertjie, die enetjie wat so graag by my kom kuier. Sy lag wittand toe sy my in die sitkamer sien. Dit voel amper soos om by ou bekendes te kuier waar ons toe daar sit en gesels oor 'n moontlike groter blyplek en die toekoms. Ek bly egter diep in my hart baie  bekommerd oor my seuns se opvoeding en skoolopleiding. Die onrus bly gedurig knaag soos 'n lastige wurm...

Sunday, 16 October 2011

Nag

Anders as vir baie ander mense, hou die nag vir my 'n besondere bekoring in. Dis vir my die wonderlikste as ek nie kan slaap nie om sommer buite na die sterre te sit en kyk.
 In Koedoesrant is die sterrekyk snags 'n ekstra besondere ervaring. Daar is geen straatligte nie en as almal uiteindelik bed toe is, voel dit nie eers of mens in 'n dorpie woon nie. Die sterre is 'n fantastiese skouspel van blink-blink diamante wat voel of hulle so naby is, dat jy hulle amper kan raakvat met jou hande. En ai, as dit volmaan is is die hele wereld sag geverf met unieke skakerings van die nag se kleure. 'n Towerwereld wat ook vir Vincent van Gogh aangrypend was!
In die wonderwereld baai ek my siel in die stilte en magsvertoon van 'n oneindige God se handewerk. Ek voel besonder begenadig omdat ek weet dat selfs my kleinste versugtinge en verlange nie vir Hom onhoorbaar is nie. En my naam staan uitgekerf in die palm van Sy hand....

My buurman

Ek het eers gedink hy wil my nie groet nie, want as ek waai is daar geen reaksie nie. Maar toe kom ek agter die ou man se brilglase is besonder dik en dat hy sukkel om ver te sien. Hy loop met 'n swart rouband om sy regtermou want sy vrou is 'n paar maande tevore oorlede. Hy is een van die welvarendste manne van die stat, maar woon allenig in die netjiese huis met die rondawel in die agterplaas. Hoendertjies loop die hele werf vol en skrop vir ietsie te ete en sorg vir eiers wat later ook vir my in 'n mandjie aangedra word.
My buurman is Oupa Jan en een van die mense na wie ek met tye opreg verlang. Hy sit graag na sy oggendwerkies in die koelte buite die huis en soms kom sy seun wat die beeste oppas buite die stat, vir hom kuier op 'n donkiekar. Hy eet een warm Sondagmiddag saam met ons onder die wag-'n-bietjieboom van die Sondaghoender en groente. Daarna vryf hy dankbaar oor sy ronde magie in in gebaar van pure weltevredenheid. Die volgende oggend staan hy voor die deur met 'n mandjie eiers en 'n bottel ingelegde vrugte; laasgenoemde die kosbaarste geskenk wat hy vir my kon gee. Sy oorlede vrou het dit nog gemaak en ek mag aan die tasbare herinnering deel he. Ek voel klein in die gedagte van sy besondere liefdesoffer...