Saturday, 15 October 2011

Kerk toe

Ek en Ouboet gaan die Sondag saam met Solomon na Oupa Daniel se kerkie toe. 'n Gedeelte van die dak het geen sinkplate nie en ons sit op harde houtbankies sonder rugleunings. Die mans en vrouens sit apart soos die oumense destyds kerk gehou het. Oupa Daniel en sy hulpprediker doen verskriklik baie moeite om ons deel te maak van die diens. Alles word van Tswana na Afrikaans getolk. Ons kniel op die vloer om te bid, want 'n mens moet soos 'n jong boompie voor God bly sodat Hy jou kan buig en vorm tot jy sterk is. Die preek handel oor die opstandige Israel in die woestyn. Voor ek mooi daaroor kan dink, moet ek ook preek!
Ek vertel toe maar hoe die Here mens soms op 'n plek kom neersit waar jy nie eintlik wil wees nie. 'n Mens het dan 'n keuse of jy gaan murmureer of in oorgawe lewe. Koedoesrant is so 'n woestynplekkie in my lewe, mag die positiewe meer sigbaar wees in my lewe!
Met die huistoe gaan groet Oupa Daniel met 'n stewige handdruk. "Se vir Louis jy het baie mooi gepreek vandag!"
Ek dink nou nog aan die jong boompie wat moet sterk word in die Here, Hy is steeds met my besig...

Friday, 14 October 2011

Die groot verlang..

'n Skielike somersmiddag- stortbui veroorsaak dat 'n oupatjie met sy kierie by ons huisie kom skuiling soek. Ek maak vir ons tee en gee vir hom 'n eetdingetjie.
 Hy noem my "my nonnatjie". My hart vermurwe oor die troetelwoordjie uit my kindertyd. Ek verlang oneindig na die geborgenheid van my kindwees, my ouers, my susters, die bekende.
Deur die ou man se stille waardigheid en die wedersydse respek tussen ons, voel ek weer geanker in my grootwordworteltjies.
Net nog 'n spesiale boodskap van Adonai dat Hy in soveel gedaantes met my lewe bemoeienis maak....

Pienkie

Ek het 'n hele paar kindertjies wat graag 'n draai by ons huisie kom gooi, kompleet met groot vraende ogies en kinderlike nuuskierigheid. Ek bederf soms met 'n lekkertjie as ek kan of andersins vermaak ek hulle deur te demonstreer hoe die rekenaar werk.
Pienkie is 'n gereelde kuiergas - lang maer beentjies en 'n oop gesiggie. Sy waai elke oggend vir my oppad skool toe en smiddae klop sy saggies aan die voordeur. Dan vertel sy skamerig hoe haar dag verloop het en wys vir my haar skoolboeke. Partykeer kry ek 'n blommetjie, 'n lekkertjie of vrug; eenmaal 'n opgevoude briefie vol boodskappies van liefde vir "muvrou Santie".
Die briefie kruip vandag nog tussen my Bybel se blaaie weg...

Kuns oppie stoep

Die drang om te skilder wen op 'n dag die wete dat ek geen skilderdoek het om op te verf nie. Ek ontdek 'n houtbord wat voorheen 'n spieelkasraam was, netjies afgerond!
 Al my vrae na sin soek oor my omstandighede word in die kwashale uitgestort. Golgotha, 'n ma se pyn, die eenvoudige geloof van 'n kind...
Die skildery word 'n fokuspunt op die stoep en die tema van menige gesprekke. Wat is die boodskap agter die figure, hoekom die grootoog kindergesiggie, die kruis, die hartseer?
Ons kry kans om 'n bietjie dieper te gesels oor ons geesteslewe, meer as om bloot die dag se weer te bespreek of die stat se nuutste skindernuus te deel!
Geloof in beeld praat soms duideliker as woorde...

Thursday, 13 October 2011

Die wyse Solomon

Hy word ons skaapwagter wat elke oggend na ontbyt die troppie skape weglei na 'n weiplek toe net buite die stat. 'n Jongman met 'n vriendelike glimlag, Rasta-hare en 'n uitstekende kennis van die vee en hulle versorging. Solomon word in meer as een opsig ons regterhand.
Hy help om die ongebruikte koolstoof aan die gang te kry en is saam bly oor die varsgebakte brood en semelkoffie. Hy dra water aan vir die huis se gebruik en doen allerlei los werkies in en om die huis.
Ek word "Ouma" Santie genoem, hopelik nie vanwee my ouderdom nie, maar eerder as 'n teken van respek.
Wanneer hy die aand te veel gekuier het by die sjibeen, word ek heel amptelik die volgende oggend om verskoning gevra al het ek niks met sy privaatlewe te doen nie! En sit ek soms saans onder die sterre en verlang na my mense, is dit hy wat my bemoedig met aanhalings uit die Bybel om te se dat alles sal regkom.
Hy en twee vriende sing graag saam, met die mooiste rondspeel van verskille in harmonie en ons droom van 'n musiekgroep met ekself wat saam fluitspeel. Bo en behalwe vir sy harde werk en ondersteuning, het ons ook iemand ontdek wat ons lewe deel met 'n besondere lojaliteit en positiewe lewensuitkyk!

Storietyd

John Rabene kom gereeld kuier, gewapen met 'n paar bottels Black Label. En hoe verder die kuier uitrek, hoe lekkerder raak die stories. Bo en behalwe sy kennis en liefde vir die omgewing en sy mense, kan hy die mees dramatiese spookstories vertel met volle oorgawe en gebare van sy hande!
 So het hy en sy broer eenkeer Rustenburg toe gery, verby 'n bordjie wat lees "spook". Dit was reenerig en daarom het hulle die arme vrou wat langs die pad gestaan het, opgelaai. Maar toe sy broer na 'n ruk in die truspieel kyk, sit sy daar sonder 'n kop! Van pure skrik gooi hy byna die kar om en toe hulle bewerig uitklim, sien hulle haar kop voor die wiel le! 'n Plaasboer kom klaarblyklik kort hierna op die twee geskokte mans af en vra of hulle dan nie die bordjie met die woord "spook" gesien het nie!
Daar was ook stories van 'n afkopman op 'n perd en vuurvlamme en dan natuurlik ook meer oor die bygelowe oor die voorvaders wat nie meer met ons is nie.
En, word ons verder met die grootste erns verseker, "Ek vurtel vur julle die ronde waarheid, Santie!"

Hartseer en trane...

Dis nie elke dag maklik in die nuwe omgewing nie. Ek beleef ook oomblikke van intense depressie en desperaatheid oor die passiewe optrede van die hoof van ons huis. Maar dis nie al nie. Dis asof ek soggens wakkerword in 'n ver land, onbekend en alleen, vreemd....
Sien, deel wees van die Reenboognasie beteken ook dat elke volksgroep sy eie unieke waardes, tradisies en gewoontes het. Soms word 'n mens in 'n situasie gedruk waar jy geforseer word om die grense van jou eie bekende leefwereld 'n bietjie te rek en jouself oop te stel vir ander se leefwyse.
So is die Koedoesrantmense besonder lief vir kuier, wat opsigself 'n baie mooi eienskap is. Dis net dat die kuiers vir ure uitgerek word en dat 'n mens bitter min privaatheid het. My seun Cobus het selfs wakker geword met 'n vriendelike kindergesiggie van 'n klein seuntjie wat langs sy bed staan en hom 'n goeiemore toewens! Die 'longdrop' in die ver hoek van die erf was werklik die enigste plek waar daar soms 'n bietjie alleentyd was! Ek krabbel dus soggens vroeg 'n paar sinne in 'n notaboekie, en dis my redding vir kophou, koelkop bly en frustrasies ontlaai. Ek probeer maar blom waar ek geplant is!

Kuier op die stoep

Hy het 'n skraal lyfie, is spierwit grys en vol wysheid en lag graag met enkele geel-wit mieliepittandjies. Oupa Daniel is ons gasheer. Ons sit op die blinkgevryfde stoep en tee drink en gesels diep dinge. Die eerste keer in my lewe drink ek vars bokmelk in my tee; 'n spesiale onthou-oomblikkie tot vandag toe!
Oupa Daniel is 'n pastoor en net so besorg oor sy gemeentelede se geestelike welstand as wat my predikantpa oor sy gemeenteskapies was. Hy leef 'n lewe van omgee, dienslewering, begripvol luister en uiteindelik ook liefdevolle bemoediging as jou hoop 'n bietjie saam met die stofwolkies weggewaai het!
Met tipiese eienaarstrots word die hele blinkskoon huisie binne aan ons gewys, 'n gewoonte wat al die inwoners in die stat het. Blykbaar dat jy moet weet na watter kamer om te gaan as iemand oorlede is en nie self die pad na sy bed toe kan wys nie!
Oupa Daniel word vir my 'n steunpilaar en voorbeeld van opregte naasteliefde, net soos die Een in Wie se voetspore hy daagliks deur die strate rondloop...Iemand wat dikwels nog in my hart se herinneringkamertjies kom kuier met die bokmelktee op sy voorstoep!

Om in eenvoud te lewe...

Min geld en gebrek aan die normale voorregte, leer jou gou om met dit wat jy het 'n buitengewone lewe van klein luukses op onverwagse plekke en in elke dagse dinge te omtower.
 Tuisgebakte brood, warm en krakerig uit die koolstoof; eksperimente met regte egte oudtydse semelkoffie om die ander drinkgoed 'n bietjie te spaar; die skoon reuk van paraffien en kerswas wat die sementvloere laat blink in koel verwelkoming in die huisie.
Bowenal leer jy die afhanklikheid van gedurige gesprek met God en staan daagliks verstom om te sien hoe daar tot in die fynste detail aan al ons aardse behoeftes voorsien word! Nie een nag was dit nodig om honger te gaan slaap nie!
Is elke haartjie op my kop dan nie getel nie?
 So baie dinge dra ons eintlik as 'n las saam met ons rond, dis soveel ligter om eenvoudig en in kinderlike geloof te lewe vir elke dag se voortbestaan.
Lelie van die veld, Hy sorg vir my en jou!

Lafenis!

Bedags is die hitte byna ondraaglik, dis die groot rede hoekom ek soggens vroeg-vroeg letterlik vlug na my boom-tempel toe! Maar ai, as dit reen is dit 'n dag vol belofte! Die salige koeligheid sorg dat die dag sommer met hoop en vreugde gevul is.
 Dis stiller buite; heelwat minder mense loop in die rooibruin stofstrate rond en die klaerige donkies balk ook nie so treurig nie. Die paaie verander in klein riviertjies en die reendruppels hang soos rye blink diamante in die plante en bome se takke. Dis snoesig om in die kombuis rond te kuier oor 'n koppie tee en stilweg te peins oor die radioprogramme waarna jy luister terwyl jy vroetel met 'n eetdingetjie. Die kombuisvenster wasem toe en jy kan patroontjies daarop teken om darem 'n ietsie buite te kan sien.
 'n Heerlike reendag is omtrent 'n stukkie genade. Net so bid ek dan vir nuwe vars krag om my dag sinvol en mooi te maak...