Friday, 7 October 2011

Wag-'n-bietjie, net vir nou!

Die wag-'n-bietjieboom het vennynige skerp dorings tussen sy donkergroen blare. Sy skadu langs die huis word my wasgoed-in-die-sinkbad wasplek, my diepdinkplek, my leesplek, 'n kuierplek en sommige aande my alleenweesplek. Dit word my unieke tempel van my nuwe blyplek. Hier offer ek dankgebede vir klein vreugdetjies en onverwagse omgeegebare van my bure; maar gryp ook soos Totius in die dorings van my waaromvrae vas. Die seer brand van die steekwonde gee geen antwoorde nie, maar dit help my om te onthou dat ons Hemelse Vader altyd vir my daar was, nou ook is en altyd sal wees. Ook hierdie seisoen sal verbygaan...

Water

Langs die huis, naby die wag-'n-bietjieboom, staan 'n oranje outydse handwaterpomp. Dis nie net vir die mooi of vir sentimentele redes daar nie. Hier is water kosbaar, of jy dit gaan haal in houers by die gemeenskaplike straatkraan of moeisaam op en af pomp met die waterpomp - hier leer jy om elke druppel water te waardeer en as kosbaar te beskou! Die afwesigheid van wasbakke en 'n bad, beteken 'n hele ritueel saans. Water word aangedra, tydsaam warm gemaak op die stoof, dan in die sinkbadjie in die slaapkamer gegooi. Vier menslywe kry agtereenvolgend 'n beurt vir bad-was in die louwarm water. Die eerste is die gelukkigste, dan is die water nog skoon en die seepskuim het geen bruin randjie van die stof en sand nie. Handewas tussen kosmaaktakies word 'n luukse, drinkwater en waswater is nie meer vanselfsprekend nie...

Sewe jaar later vandag, is dit nog steeds vir my 'n vreeslike groot bederf om saans te kan wegsak in die bad met badskuim en warm water uit die kraan! Net omdat ek die sukkelwas in die sinkbadjie so goed onthou!

Blyplek

Die huisie was jare lank onbewoon nadat sy eienaars die tydelike met die ewige verwissel het. Volgens tradisie en bygeloof voel geen lewende nasaat regtig gerus om saam met die voorvadergeeste te woon nie!
 Die dakrant buite
 het baksteenpatroontjies wat amper soos 'n kasteeltoringdak lyk. Die sewe vertrekke is nou inmekaar gepas soos 'n legkaart, sonder 'n gang. Die kombuis se linoneumvloer is gekraak en langs die venster staan 'n ou koolstoof wat dik gepak is met stof en spinnerakke. Daar is geen wasbakke of lopende water nie, ook geen badkamer nie. Die sementvloere is koel onder 'n mens se voete in die somerhitte. Met reenbuie stort die water deur die gaatjies in die sinkdak, dit veroorsaak 'n wilde geskarrel om al wat lee houer is te gryp en onder die lekplekke te sit.
 Nie naastenby al ons aardse besittings pas tussen die huisie se mure nie, maar dis tog 'n veilige skuilplek tussen die vreemde mense, die reen, die son , die wind en die wereld buite.
Ons hoef darem nie in die veld onder die sterre te slaap nie! Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees!

Thursday, 6 October 2011

Toskaanse blou tafeltjie in Afrika

Ouma Mina is 'n waardige vrou en inwoner van die stat. Haar huis en werf is altyd netjies en goed versorg en sy geniet die gesellige saamwoon met haar dogter Doreen en die se twee dogtertjies. Op die kuierstoep waar mens wegkruip vir die brandende bosveldsonnetjie, staan die blouselblou tafeltjie. Dit word elke keer gedek met 'n bord vol vars vrugteverrrassings as mens kom kuier en dan moet alles opge eet word om nie die gasvrou in die gesig te vat nie!
Ouma Mina leer my hoe om  'n paar sinne en woorde in Tswana te praat en so begin ek al hoe meer tuis word in my nuwe omgewing. Ek word ook geleer oor die tradisies in die lewe van 'n Tswanavrou en gaan saam op huisbesoeke as daar een of ander ongeluk iemand se lewe getref het. Om jou simpatie te bewys is deel van jou goeie maniere. Almal se lewens is nou verweef in die rustige elke dag lewe tussen die stofstrate en baie huise, skape, beeste en bokke, mense en spelende kinders.
 Ouma Mina help my om waardig te bly, my kop op te tel en deur haar liefdevolle omgeegebare dra sy saam aan my verlatenheid en verlange na my verwegmense...

Masanda

Hy kom tot ons redding; die lang man met die diep, rustige stem wat voorspraak gaan doen by die stat se kaptein vir die witmense sonder blyplek. Masanda is 'n hoofman en die "waterwagter" - wat die dieselpomp vir elke dag se watervoorraad na die gemeenskaplike krane in die strate - moet "start".  Hy sien om na ons belange met 'n soort trots en waardigheid en reel hulp met die trek na die bruingepleisterde huisie op die hoek van een van die besiger strate. Die erf is groot; groot genoeg vir 'n groentetuin, kampies vir skape of bokke en skoongeveede bruin grond om die woonplek. Daar is 'n smal uitgetrapte paadjie na die verste hoek waar die "longdrop" staan en 'n reuse kameeldoring net slap om die buitegeboutjies.
 Masanda kom gereeld kuier op die klein stoepie of onder die wag-'n-bietjieboom en so maak hy seker dat ons veilig en versorg is. Dis die kuiers van mense wat baie tyd het, wat weet dat dit wat jy nie vandag afhandel nie, more klaargemaak kan word. Dat Afrikatyd rustig is, een met sy eie tempo en ritme...
En so begin ons lewe op Koedoesrant, waar die son saans die mense en die bosveld groet met die mooiste kleurryke sonsondergang en waar ons huis 'n kuierplek word, ook vir alleenlopers, soos Masanda...

Sunday, 2 October 2011

Verlatenheid

In een oomblik kan jou hele wereld uitmekaar spat. Skielik is al jou aardse veiligvoel weg, het jy nerens wat jy jou eie blyplek kan noem nie. Die enigste voertuig is stukkend, die bekende buitewereld is afgesny, buite bereik. Jy is in 'n vreemde omgewing; amper 'n vreemde land, tussen die Tswana statjies in die Bosveld. Grondpaaie, doringbome, vuurwarm son bedags, ruie gras, slingervoetpaadjies in die weiveld, gebreekte windpompe, gemakhuisie in die verste hoek van die tuin. Die heuwelberge vorm 'n muur aan die eenkant, wat vroeg soggens 'n lang skaduwee oor die voorstoep gooi. Die lug bewe van die hitte en die verweg geluide van bulkende beeste en die klaestemmetjies van die skape. Dorings in die bruin grond en snags jakkalse wat skree.
 En die angs leef in jou hart... waarheen nou? Ek kyk op na die berge...waar gaan daar hulp vandaan kom? Net die wind dwarrel deur die los grond en droe" gras, miere loop in rye teen die gebarste muur.
 Die honde kom lek aan my hand asof in 'n troosgebaar, of hulle my desperaatheid aanvoel. Wat gaan van ons word? Wie gaan ons help om 'n blyplek te kry vir ons gesin, die plaaswerkers, die skape, die honde en Cobus se ganse? Het enige iemand werklik al die hopelose verlatenheid aan sy eie lyf gevoel?