Sunday, 2 October 2011

Verlatenheid

In een oomblik kan jou hele wereld uitmekaar spat. Skielik is al jou aardse veiligvoel weg, het jy nerens wat jy jou eie blyplek kan noem nie. Die enigste voertuig is stukkend, die bekende buitewereld is afgesny, buite bereik. Jy is in 'n vreemde omgewing; amper 'n vreemde land, tussen die Tswana statjies in die Bosveld. Grondpaaie, doringbome, vuurwarm son bedags, ruie gras, slingervoetpaadjies in die weiveld, gebreekte windpompe, gemakhuisie in die verste hoek van die tuin. Die heuwelberge vorm 'n muur aan die eenkant, wat vroeg soggens 'n lang skaduwee oor die voorstoep gooi. Die lug bewe van die hitte en die verweg geluide van bulkende beeste en die klaestemmetjies van die skape. Dorings in die bruin grond en snags jakkalse wat skree.
 En die angs leef in jou hart... waarheen nou? Ek kyk op na die berge...waar gaan daar hulp vandaan kom? Net die wind dwarrel deur die los grond en droe" gras, miere loop in rye teen die gebarste muur.
 Die honde kom lek aan my hand asof in 'n troosgebaar, of hulle my desperaatheid aanvoel. Wat gaan van ons word? Wie gaan ons help om 'n blyplek te kry vir ons gesin, die plaaswerkers, die skape, die honde en Cobus se ganse? Het enige iemand werklik al die hopelose verlatenheid aan sy eie lyf gevoel?

No comments: